Vrydag 15 Junie 2018

"In sneeu geskryf", Francois Loots (Resensie)

Sommer so per toeval, terwyl ek my nabygeleë biblioteek se rakke deurkyk, val die titel van hiérdie boek my op. Francois Loots is nie 'n naam wat ek al voorheen teëgekom het nie -- tog het ek sy skryfwerk en storie albei uiters oortuigend gevind, nieteenstaande die swakheid van die roman se slot nie. 

Die storie bevat 3/4 karakters wat almal op een of ander wyse met mekaar saamgebind is/was. Al drie het gekompliseerde verhoudings met hul seksualiteit, en elke een moet onder moeilike omstandighede 'n stryd vir oorlewing voer. Hitte, en sy verwante betrekking met seksuele verlustiginge, word teen die koue van 'n Russiese sprokiesagtige agtergrond vergelyk: as Adam, Bertus, of Heinrich hul werklikheid wil ontsnap (en soms kom hul lus daarvoor nie eers ten sprake nie) dan word hulle meegesleur in 'n visioen van koue en Siberiese landskappe. 

Elke karakter is uitgepluis en interessant. Ek probeer om spoilers te vermy. Verbaas, lees ek dat Loots ook op UK geswot het en boonop dieselfde hoofvak as ek geneem het, Duits! Ek kon my verbeel dat ek dikwels Duitsagtigge uitdrukkings en sinstrukture erken het, en hy gebruik ook 'n woordeskat wat 'n Germaanse herkoms suggereer. 

Die twee hoofkarakters van die roman ervaar deurentyd die hoogtepunte en nederlae van 'n lewe in die stad. Die boek kan maklik met 'n Marxistiese inklee gelees word. Al die karakters word uitgebuit deur 'n geselskap wat die druk van geldmaak en sy selftoereikendheid vir 'n volmaakte lewe bevraagteken. Oënskynlik is dit slegs kuns wat die moderne mens, in sy vereensaamheid, nog enige troos kan bied. Die karakters behandel mekaar (natuurlik, aangesien die een 'n rent boy is) as middels tot selfbevrediging, d.w.s. as voorwerpe. 

Die gevolg hiervan kon slegs, óf 'n uiteindelike erkenning van menswees, óf 'n geweldadige ontneming wees. Seks en intimiteit ontaard in meganiese en onaangename ervarings wat slegs dwelms kan aanhits; moderne manlikheid in hierdie roman is dus nie 'n stereotipie, 'n 'seks-obsessiewe' instelling, nie. Die boek, na myn siens, vra wat gebeur met die gees as al wat oorbly van mens is die masjien. Die aparte storielyne loop tot dieselfde dénouement: hoe persoonlike verhoudings nie net onder só 'n regime sukkel nie, maar dat die individu nie verlossing in romantiese verhoudings noodwendig sal kry nie (soos herhaaldelik gesuggereer). By my het die boek "The Song of Achilles" van Madeline Miller sterk opgekom as 'n gepaardgaande idee van hoe 'n liefde tussen Achilles en Patroclus beide mans nie kan red nie, alhoewel Loots se sienings in die konteks van die moderne heelwat donkerder is (moet wees).

Dinsdag 12 Junie 2018

"Hy kom met die skoenlappers", Valda Jansen (Resensie)

My Pa se voormalige vriendin sê nou die dag dat hierdie boek haar gedurig aan my laat dink het -- die digterlike taalgebruik en die ingenomenheid met Duits. Ouch. Dis nie juis of dít nou eintlik as 'n kompliment opgevat kan word nie.

Jansen het Duits aan die UWK gestudeer, want, ek lei maar af, dit bevat minder intense politiese probleme maar terselfdertyd laat haar na aan Afrikaans voel. Die semi-outobiografiese roman is heel postmodern, die verskille tussen fiksie en werklikheid word bestryk binne die narratief en tot betrekking met die skrywer. 'n Groot liefde, Anders ('n Duitser), sterf sonder om van Jansen afskeid te kon neem. Meeste van die roman probeer Jansen se skuldgevoelens, ellende, en verlange te vertolk en verwerk. Ek het self 'n gekompliseerde doodsafskeid ervaar met my Ma se sterwe, en kon sterk met Jansen se wroegings oor Anders se dood identifiseer.

Terselfdertyd sukkel Jansen/die protagonis om haar lewe tydens die Apartheidsjare, en haar Pa se pynlike en toenemend wrede gemoed, te verstaan. Jansen gebruik dit om haar vervreemding van Anders, maar ook Afrikaanswees/Duitse student, te begryp. Sogenaamde 'kleurling' identiteit moet vir Jansen niksseggend wees -- té breed en té onduidelik. Gelydelik besef Jansen/die protagonis dat sy as nóg Afrikaner nóg Afrika-ner kan optree omdat sy nie 'swart' of 'wit' is nie. Sy is nie Hollands nie, nieteenstaande die feit dat haar oupa 'n Hollander was; sy is 'n Suid-Afrikaner. Maar sy is ook nie uit Afrika nie (sê die geselskap) en selfs al wil sy dit gedurig bewys, kan sy nie.

Die ou DDR Oos-Duitsland word vergelyk met Apartheid Suid-Afrika, nóg 'n opsig waarmee sy Anders se lewe en wese probeer herskep en daarmee hom te behou binne haar eie konteks. Natuurlik is die verbinding tussen die Holocaust en Apartheid ietwat oordrewe maar dit funksioneer geensins as 'n morele oortuiging nie, heel eerder as 'n kunsmiddel soos voorheen aangedui is.

Aangesien die roman as elegie op die voorblad beskryf word, is dit natuurlik 'n triestige storie. Pragtig geskryf en so eerlik mens ervaar medelye. 'n Uitstekende en sprokiesagtige herinnering aan verlore liefde en die uitsluiting van moontlikhede soos die lewe onverbiddelik met die ouderdom uit mens loop.